Nuwe era en aanplantings vir Meerlust wynlandgoed

Nuwe era en aanplantings vir Meerlust wynlandgoed
published on:

Om 'n proe op die historiese Meerlust-wynlandgoed buite Stellenbosch wat al 8 geslagte lank deel van die Myburgh-familie is, by te woon, is 'n ware belewenis.

Meerlust se bekendste wyn is sekerlik die Rubicon. Dis in 2009 deur die toonaangewende wyntydskrif, “Decanter”, aangewys as die "Beste Nuwe Wêreld Rooi" en in 2006 27ste gelys in “Wine Enthusiast” se Top 100 wyne vir jaar én dit wen in dieselfde jaar die gesogte Chateau Pichon Longueville Comtesse de la Lande trofee by die International Wine and Spirits Competition (IWSC) as "Beste Rooiversnit".

Die versnit word net in uitsonderlike jare produseer. As die wynmaker nie dink die druiwe van ‘n spesifieke oesjaar is goed genoeg nie, word daar geen Rubicon gemaak nie.

Die landgoed is lank reeds bekend vir wêreldklas-wyne en is besonder ryk aan geskiedenis en sedert 1756 in die Myburghs se besit. Dis selfs in 1930 deur Jacob Hendrik Pierneef, een van Suid-Afrika se bekendste kunstenaars, geskilder.

Ons is ‘n klein, bevoorregte groepie wat 20 jaar van Rubicon-oesjare kom proe: die 2004 (droog en warm); 2009 (nat en koel); 2017 (droog en warm); en 2021 (matige reën en koel).

Maar eers terug by waar alles begin het. Die eerste eienaar van die eiendom, 'n Duitse immigrant genaamd Henning Huising, het die skoonheid en potensiaal van die plaas erken en hom in 1693 hier gevestig. Hy het sy nuutgevonde huis "Meerlust", wat "plesier van die see" beteken, as die herehuis genoem. Die huis sit op 'n granietkop net ‘n rapsie meer as 5 km van Valsbaai af, en in die warm somermaande, kry die wingerde ‘n koele lafenis van die see en aandmis, wat van die kus af inrol.

Jy ry deur ‘n lang palm- en eikeboomlaning, al langs die dam met sy bekende windpomp reg in die middel van die water. Ons word verwelkom met ‘n glas Meerlust Chardonnay, omdat die besoek ook saamval met Internasionale Chardonnay dag. Binne is die intieme proekamer regtig ‘n terugdraai van die jare.

Toe al die gaste ‘n glasie het, verwelkom Wim Truter, keldermeester en bestuurder, en Altus Treurnicht, wynmaker, ons en sê die plaas se unieke terroir kan nie net in hul wyne geproe word nie; mens moet dit ook sien. Almal is in verskillende voertuie en gaan kyk die wingerde, verskillende grondtipes en hellings. Hulle noem dat ons later in die proe gaan ervaar hoe interessant dit is waar die komponente oor verskeie oesjare vandaan kom. Elke terroir-komponent is só divers.

Wim het pas sy vierde oes by die landgoed agter die blad en het tydens sy eerste oesjaar in 2020 so tussen KWV – sy vorige pos as wynmaker - en Meerlust gewerk. Vanjaar is 590 ton druiwe op die plaas geoes. Meerlust maak tans 400 000 liter wyn per jaar en die helfte word uitgevoer. Ons ry tussen die verskillende wingerde vir beter konteks oor die wyne wat ons later gaan proe.

Kliek HIER om die volle artikel te lees.


  +27.218433587       +27.218433274       shop@meerlust.co.za
Meerlust Estate Baden Powell Drive P.O. Box 7121 , Stellenbosch, 7599, South Africa